REVIEW BY: Maroela Media | AUTHOR: Brendon Staniforth
Original Article Link: https://bit.ly/3WXXj4H
Drie bakkies in die bokskryt
Die Chinese aanslag is onweerlegbaar. Hul vordering in ʼn bitter kort tyd is verstommend. Ongelukkig vir hulle word ons nie altyd gebluf deur hul oëverblindery nie en meer getroue handelsmerke bied steeds beter produkte as mens onder die vel gaan rondkrap. Kom ons vergelyk dié drie nuwelinge en sien waar het Dawid die wortels gegrawe.
Ontwerp:
Isuzu D-Max 1.9 X-Rider outo: 4/5
JAC T9 2.0 4×2 outo: 4/5
LDV T60: 3/5
Isuzu het hom puik van sy taak gekwyt met die nuwe X-Rider-opknapping. Werklik ʼn mooi bakkie. JAC se T9 is geen lelike eendjie nie, maar ek sukkel om aan daai opsigtelike sierrooster gewoond te raak. Die LDV is ongelukkig ʼn treetjie té ver. Dis ʼn ouergenerasie-bakkie waarop daar allerhande tierlantyntjies geplak is om hom beter te laat lyk. Dit het ongelukkig gefaal, veral as mens hom teen die ander twee vergelyk.
Binneruim:
Isuzu D-Max 1.9 X-Rider outo: 4/5
JAC T9 2.0 4×2 outo: 4,5/5
LDV T60: 3/5
Terwyl die Isuzu se ontwerp puik is, moet mens die gehalte van die materiale in die binneruim bevraagteken. Die plastieke kan verbeter word. Die JAC slaan mens uit die veld met ʼn pragtige binneruim, goeie ontwerp én luukse materiale. Die enigste kwaal is die stuurwiel wat té laag sit, en nie loodreg met die bestuurder nie. Die LDV val hier heeltemal uit die bus. Dit is ʼn ouergenerasie-bakkie en mens voel dit aan die binneruim – veral die feit dat daar nie Apple CarPlay of Android Auto beskikbaar is nie. Darem is sy stuurwiel in die regte plek.
Enjin, ratkas & dryfstelsel:
Isuzu D-Max 1.9 X-Rider outo: 4/5
JAC T9 2.0 4×2 outo: 4,5/5
LDV T60: 3/5
Isuzu het ʼn ware wenresep met die 1.9-viersilinderturbodiesel, spesifiek wanneer dit met die outomatiese ratkas gekoppel is. Uiters lig op brandstof en genoeg krag met 110 kW en 350 Nm om te doen wat mens met ʼn bakkie wil aanvang. Dit is egter nié ʼn renmotor nie. JAC het hier ʼn sterk mededinger. Die 2.0-viersilinderturbodiesel bied 125 kW en 410 Nm – heel goed, koppel dit aan ʼn lekker 8-spoed- outomatiese ratkas en jy het ʼn lekker pakket. Al wat nog effens werk kort, is die versnellerkalibrasie. Dan kom die LDV. Terwyl hy ʼn enorme 160 kW en 500 Nm bied, verreweg die sterkste tussen die drie, is die enjin en ratkas uiters styf en grof as die bakkie koud is. Die groot krag is lekker, maar mens moet die wit waks uit die ding ry om daar uit te kom, en soos ek reeds gesê het – ʼn bakkie is nie ʼn resieskar nie.
Ritgehalte, padhouvermoë & veiligheid:
Isuzu D-Max 1.9 X-Rider outo: 3,5/5
JAC T9 2.0 4×2 outo: 4/5
LDV T60: 3/5
Hier is eintlik twee verskillende benaderings waarop mens dié kategorie kan punte gee. Is dit ʼn werkesel of ʼn gesinsvoertuig? Indien dit ʼn werklorrie is – dan wen die Isuzu met sy harde agtervering – puik vir vrag dra. Die JAC is weer meer gerig as ʼn gesinsmotor en het ʼn meer soepel rit – weer nie ʼn vooraanstaande vragdraer nie. Die LDV is effens in die middel – nie hard genoeg om hard te werk nie, maar ook nie sag genoeg om gemaklik te wees nie. Sy stuur is ook effens vaag – en dis hoekom hy die minste punte werf. Die bakkies bied lugsakke – maar net die JAC het luukser aktiewe veiligheidstelsels.
Prys & waarde vir geld:
Isuzu D-Max 1.9 X-Rider outo: 4/5
JAC T9 2.0 4×2 outo: 4/5
LDV T60: 1/5
Die Isuzu en JAC speel in dieselfde markgleuf met hul prys om en by R660 000. In die JAC betaal mens vir speelgoed, by die Isuzu is die betroubaarheid, naverkopediens en herverkoopwaarde beslis die geld werd. Ek dink die mense by LDV het iets gerook toe hulle besluit het op die verregaande prys van R790 000 vir hul bakkie.
Opsomming:
Isuzu D-Max 1.9 X-Rider outo: 19,5/25
JAC T9 2.0 4×2 outo: 21/25
LDV T60: 13/25
Die eindtelling is verbasend. As mens die individuele aspekte in ag neem, is die JAC die wenner. Ek self sou tog eerder die Isuzu aanskaf.